Die Staat of Die Republiek (Antieke Grieks: Πολιτεία, geromaniseer: Politeia; Latyn: De Republica)[1][2] is een van die bekendste en mees invloedryke dialoë van die Griekse filosoof Plato, geskryf in omstreeks 380 v.C. Dit het die grondslag van sy politieke filosofie gelê, maar sy etiek en sy Ideëleer[3] word ook bespreek. In die werk bespreek Plato se karakters (insluitend Sokrates en andere) in 'n aantal gesprekke begrippe soos geregtigheid, die rol van die filosoof, die plek van poësie in die samelewing en die onsterflikheid van die siel. Die Staat word afgesluit deur die mite van Er. As geheel is die werk bekend vir sy ryk inhoud en literêre styl en berug vir die totalitêre aard van die staat wat dit beskryf.